Latest News
Show
Is Afrikaans regtig te duur vir die sakewêreld?
Bogenoemde bevinding bring natuurlik meer as net die publiseer van maatskappy-resultate na vore. Die vraag is wat is aan die gebeur met Afrikaans as besigheidstaal? Met die internasionalisering van korporatiewe ondernemings in Suid-Afrika het maatskappye gaandeweg oorgeslaan na Engels as die besigheidstaal wat dag tot dag gebruik word – veral deur middelvlakbestuurders. Daar is ‘n jong geslag bestuurders wat nie meer oor ‘n volledige Afrikaanse ekonomiese- en bestuurswoordeskat beskik nie.
Terugskouend is dit belangrik om te besef dat Afrikaans as besigheidstaal nie losgemaak kan word van die sosio-politieke en ekonomiese oorgange wat die land gemaak het nie. Onder die vorige politieke bedeling het Afrikaans as besigheidstaal oënskynlik sy hoogtepunt bereik. Maar dit is natuurlik ’n vraag of dit volhoubaar was?
Die ontwikkeling van Afrikaans in die besigheidswêreld het veral ’n groot hupstoot gekry met die Ekonomiese Volkskongres van 1939 en die stigting van die AHI (1942), die Reddingsdaadbond en Federale Volksbeleggings. In die drie dekades na die Ekonomiese Volkskongres het Afrikaans as besigheidstaal vinnig ontwikkel en is innoverende en beskrywende woorde daargestel.
Aan universiteite is ekonomiese- en bestuursvakke in Afrikaans aangebied en was dit die voorkeur van Afrikaanse studente om verhandelinge en proefskrifte in Afrikaans te skryf.
Finansiële en ekonomiese tydskrifte het die lig gesien en ’n baie belangrike rol gespeel om die algemene publiek “ekonomies geletterd” te maak.
Die AHI het in bogenoemde tydperk ook ’n hoogtepunt beleef en was goed geplaas as invloedryke organisasie met ’n binnebaan na die regering toe. Dit was ook die versamelpunt van Afrikaanse besigheidslui waar hulle in Afrikaans oor die ekonomie en besigheid kon praat en besin.
Afrikaanse besigheidslui was egter altyd meer pragmaties wat betref hulle besigheidstaal. Alhoewel hulle binne ondernemings feitlik deurgaans Afrikaans was, het hulle in interaksie met nie-Afrikaanse besigheidslui altyd in Engels sake bedryf. Omdat Afrikaans die voertuig na die besluitnemers van weleer was, het Engelsprekende besigheidslui hulle bes gedoen om ook in Afrikaans te kommunikeer as deel van die destydse beleid van tweetaligheid.
Daar was egter ook Afrikaanse sakelui wat sover gegaan het as om Afrikaans as hulle kultuurtaal en Engels as hulle besigheidstaal te beskou.
Met die koms van die nuwe politieke bedeling in Suid-Afrika het dinge natuurlik ingrypend verander. Baie maatskappye het hulle mark verbreed en multinasionale ondernemings geword. Hierdie ondernemings het oorgeslaan na Engels in hulle kommunikasie binne en buite die organisasie. Engels het spoedig die linga franca van die besigheidswêreld geword.
Aan histories-Afrikaanse universiteite word ekonomiese en bestuursvakke steeds in Afrikaans gedoseer. Maar hier woed ook intense taaldebatte oor die parallelmeduim- en dubbelmediumopsies van klasgee. En studente verkies toenemend om hulle skripsies en verhandelinge, en dosente hulle artikels, in Engels te skryf.
Afrikaanse besigheids- en finansiële bylaes tot koerante en tydskrifte maak nog steeds ’n belangrike bydrae en het myns insiens onder die invloed van groter kompetisie baie verbeter.
En les bes is die AHI steeds daar, weliswaar nou as ’n inklusiewe Afrikaanse georganiseerde besigheidsorganisasie wat ’n sentrum van deskundigheid en dienslewering vir besigheid bly. Die AHI het oorleef en is vandag goed geposisioneer as ’n strategiese rolspeler in die veld. Daar is ook goeie tekens van nuwe uitbreiding op die sakekamervlak wat belofte inhou.
Waarom behoort maatskappye dus steeds hulle jaarverslae in Afrikaans te publiseer? Nie uit deernis nie, maar om objektiewe redes.
Eerstens is Afrikaans steeds ’n belangrike taal in Suid-Afrika wat maatskappye nie lig moet opneem nie. Kom ons kyk na ’n paar feite:
- Afrikaans is een van die grootste spreektale in Suid-Afrika, met 6 miljoen eerste-taalsprekers. As die tweede-taalsprekers bygetel word is dit iewers tussen 12 en 16 miljoen
- Afrikaans is die taal van baie mense wat in die struggle teen apartheid was
- Afrikaans is ook ’n sterk streekstaal en word in die meeste provinsies as ’n belangrike taal van kommunikasie erken
- Afrikaans is volledig taal en het ontwikkel as wetenskapstaal, skryf/ digtaal, sangtaal, en besigheidstaal
- Dit is ook ’n taal wat ryk aan metafore en uitdrukkings is. Uitdrukkings soos nogál, boer maak ’n plan, bosberraad, en dinkskrum word vandag vry algemeen deur nie- Afrikaansprekendes gebruik
Tweedens daar is ook ekonomiese feite:
- Volgens die Buro vir Marknavorsing (2009) is Afrikaansprekendes steeds die groep met die grootste koopkrag in die land (32,3% van die totaal);
- Hulle het ook bevind dat die Afrikaanssprekende beleggers op die Johannesburgse Effektebeurs die sterkste groei toon; en
- Afrikaanssprekendes is die grootste kopers van finansiële produkte soos kort- en langtermynversekering, begrafnispolisse en viertrekvoertuie (Dit is veral ’n boodskap aan maatskappye in die veld!).
- En Afrikaans is die taal van ’n beduidende deel van die ekonomiese-aktiewe bevolking van Suid-Afrika
Daar is dus goeie redes rondom die krag van die Afrikaanse taal in terme van taaldemografiese, ekonomiese en ander redes waarom maatskappye nie sommer moet wegdoen met jaarverlae in Afrikaans nie.
Ek is ook nie oortuig van die kostefaktor nie. Waarom kan jaarverslae nie in Afrikaans en Engels, rug aan rug gebind, gepubliseer word nie! En as daar meer verslae gedruk word daal die eenheidskoste mos, of hoe?
Ek stem saam met Dr Danie Cronje as hy sê dat Afrikaans nie eksklusief gebruik moet word ten koste van enige-iemand anders nie (Sake24, 25 Mei 2009:4). Hy gaan verder: “Ons praat baie oor moedertaalonderrig waarvoor ons besonder sterk voel, maar as dit by handel en handelsboodskappe kom, is ons minder besorg. In werklikheid is dit egter ’n voorvereiste. En as jy nie self vir die taal opstaan nie, wie gaan dit namens jou doen?”.
Miskien moet maatskappye weer dink oor hulle jaarverslae.
Prof Coetzee is die uitvoerende hoof van die AHI en buitengewone professor aan die Stellenbosse Bestuurskool. Die gedagtes in die rubriek is egter sy eie.
.................................................................................................................................
Enquire about this article
More Related News
CCBC Strategiese Vergadering
Vrydag, 20 Augustus het die CCBC vergader om te besin oor 'n strategie vir die toekoms.
Read more...
1. ʼn Innoverende groeibenadering
Soos lede bewus is skryf Prof Stef Coetzee elke maand ʼn oorsig artikel in Sake24. In verlede week se artikel wat op 11 Augustus geplaas is, ontleed hy die knelpunte maar ook die positiewe aspekte oor hoe ons ekonomiese groei in Suid Afrika innoverend tot hoër vlakke kan neem. Ons neem gedeeltes van sy skrywe hier in oënskou.
Read more...
Gauteng’s prepaid toll solution to become the national standard
When Gautengers are tolled for using the province’s busiest freeways in early 2011, the system will work somewhat like a prepaid cellphone contract.
South African National Roads Agency Limited (Sanral) senior project manager Alex van Niekerk says car owners will be asked to set up accounts, either by phoning in or going to a website, and to then load money into these accounts before entering the tolling system, or to link payment to their credit cards.
Read more...
SANLAM COBALT TIPS FOR BUSINESS OWNERS
Prepare for Growth (6)
”Our people are our most important asset.” Most business owners have made this statement or even incorporated it as such in the core values of their business. But what does it mean and what are the implications of this statement if we wish to put it into practice?
Read more...
ADOPT-A-SPOT INITIATIVE BY CITY OF TSHWANE
“Adopt-a-Spot” is an initiative by Council to enable industries, companies or members of the public to adopt any open space area at no cost to the applicant. The “adoptee” would then be responsible to clear the area of any illegal dumping, alien vegetation as well as to maintain or landscape such an area with indigenous vegetation. The adoptee may advertise its involvement in this initiative on site, subject to certain conditions.
Read more...