Article Headlines
Show
EKONOMIESE OORSIG: JULIE 2010
Plaaslik is die SA Reserwebank se kwartaaloorsig oor die ekonomie vrygestel. Die kernboodskap daarin vervat, is dat binnelandse besteding (BBB) in kw1:2010 vinniger as die groeikoers (BBP) en die nasionale inkome (BNI) gestyg het. Die gevolg hiervan is dat die lopende rekening van die betalingbalans verswak het. Uitvoere het gedaal maar invoere het gestyg op ’n stadium van die sakesiklus wat dit nie te wagte is nie. Daarmee saam het daar vir die eerste keer ‘n erkenning gekom dat die oorgewaardeerde wisselkoers waarskynlik hiertoe ‘n bydrae gemaak het. Die Statistiekdiens het syfers verstrek rakende indiensname wat, om die minste te sê, skokkend is. In kw1:2010 het nie minder nie as 79 000 mense hulle werk verloor en aanduidings is dat verdere werksverliese in kw2 ingetree het.
Internasionale verwikkelinge
Die internasionale toneel is, om die minste te sê, uiters verwarrend en onseker. Dit blyk dan ook uit die vertoning van die kommoditeits- en finansiële markte waar groot skommelings voorkom en waar in die laaste week van Junie skerp dalings van pryse ingetree het. Daarby het rentekoerse in die effektemark in die VSA en Duitsland ook gedaal, (die prys van effekte styg), wat ‘n aanduiding van onsekerheid is en dat daar as’t ware ‘n vlug na “veilige” beleggings is. Dit is ook ‘n aanduiding van swakker groeiverwagtings omdat onlangse beleidsoptredes dalk weer tot ‘n skerp resessie kan lei met deflasie verwagtinge wat weer na vore tree.
Wat het hiertoe aanleiding gegee? Immers, tot onlangs toe nog was die algemene gevoel dat die wêreldekonomie goed op die herstelpad was.
Die saak moet ‘n paar jaar teruggevoer word. Lesers sal onthou dat sowat vier jaar gelede daar groot optimisme in die wêreld geheers het. Beurspryse het in die tydperk 2003 tot middel 2007 dan ook skerp gestyg. In die jaar 2007 het wanbalanse in die wêreld en in lande ingetree maar dit was toe in baie kringe as ‘n “tydelike versteuring” gesien voordat alles weer opwaarts sou beur. In Januarie 2008, tydens die Davos konferensie te Switzerland, was die meerderheidssiening een van optimisme en is daar dan ook verwys na die “golden locks” scenario. Goue Lokkies se pap was net reg – nie te koud en ook nie te warm nie.
Die skrif was egter reeds aan die muur omdat die wêreld as geheel bo sy vermoë geleef het. Dit is tipies die situasie in die finale fase van ‘n sakesiklus. Nogtans het slegs enkeles dit erken. Die kredietgraderingsagentskappe by name het egter lofwaardige kredietgraderings die lig laat sien. Hoë risiko beleggings en finansiële bates het AAA graderings gekry. Finansiële instellings en pensioenfondse het daarop gereageer en hierdie bates gekoop en sodoende pryse verder opgedruk. Eiendomspryse het ook deurentyd gestyg en banke het by die aankoop van huise tot 110% voorskotte teen die waarde daarvan toegestaan. Sake kon net eenvoudig nie verkeerd gaan nie. Wel, dit het!
Hoe sterker die opswaai en finansiële uitbundigheid, hoe skerper die regstelling. Hierdie keer was dit egter nie net ‘n regstelling nie maar soos in die dertigerjare het die spook van ‘n depressie duidelik sy kop uitgesteek. Gelukkig, het die wêreld geleer hoe om met ‘n depressie te werk te gaan. Daar is dan ook wêreldwyd gekoördineerd opgetree wat tot die afweer van ‘n depressie gelei het met ‘n wêreldekonomie wat sy kop begin lig het. Soos egter te wagte kon wees, het staatsinkomstes gedaal en het staatstekorte toegeneem. Daar is geen wesenlike probleem hiermee in ‘n klimaat waar vraag swak en groot onderbenutte kapasiteite bestaan nie. Immers, dit is deel van die outomatiese regstellingsaksies in ‘n ekonomie.
Ongelukkig het die internasionale kredietgraderingsagenstskappe weer eens in die prentjie gekom en is hulle besig om totale chaos te veroorsaak. Lyk my nie hulle verstaan dat daar in die ekonomie so iets soos ‘n sakesiklus is nie en dat owerheidsbeleid daarmee rekening moet hou nie. Nou deel hulle weens die groter tekorte swakker graderings uit. Natuurlik sal daar groter tekorte wees en moet dit so wees as die outomatiese stabiliseerders in die ekonomie moet werk. Hulle optrede veroorsaak egter nou dat regerings “verplig” word om pro-siklies op te tree – net soos wat hulle in 2007 gedoen het. Regerings word nou gedwing om belastings te verhoog en staatsbesteding in te kort. Dit is die verkeerde tyd om dit te doen. Hoekom het die kredietagentskappe nie vier jaar gelede laer graderings aangekondig toe dit gepas was nie? Die regerings van Europa en Brittanje het dan nou ook, by wyse van spreke, uit die kraal gespring. Wêreldoptrede om gesinchroniseerd die resessie spook te beveg, het gevolglik ‘n knou gekry. Ongeveer een derde van die wêreld neig nou in ‘n ander rigting. Dit kan in dié lande daartoe lei dat vraag weer verswak, die ekonomiese groeikoerse daal, onderbenutte kapasiteite toeneem, werkloosheid styg en belastingontvangstes, ten spyte van hoër belastingkoerse, swak bly. Meer nog: dit skep die verwagtinge dat sake kan verswak wat dan inderdaad ook daartoe kan lei omdat mense daarvolgens optree en so kan die resessie vererger. Dr Bernanke, wat sy doktorale verhandeling oor die Groot Depressie gedoen het, het dan ook teen hierdie beleidsoptredes gewaarsku.
Ons staan dus nou by die punt waar dit wil voorkom asof die wêreld weer resessie toestande kan betree. Die markte verwag dit en pryse van kommoditeite en finansiële bates weerspieël dit. Dit hou groot nadelige gevolge vir Ontwikkelende Lande in. Vir ons in die RSA kan dit ook nadelig raak aangesien uitvoervolumes en -pryse kan daal.
Plaaslike toestande
Teen voorgaande agtergrond moet daar nou na die Suid-Afrikaanse ekonomie gekyk word. Allereers moet bepaal word waar ons nou met die ekonomie staan. In die opsig is inligting uit die jongste Ekonomiese Bulletin van die SA Reserwebank van belang.
Soos bekend het die reële groeikoers (BBP), seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, in kw1:2010 met 4,6% gestyg wat dit die derde kwartaallikse styging maak. Wat egter betekenisvol is, is die feit dat reële binnelandse besteding (BBB) die afgelope twee kwartale vinniger as die BBP toegeneem het. In kw1 was die styging nie minder nie as 12,1%.
As die bestedingskomponent ontleed word, blyk dit dat ‘n aansienlik stadiger afbou in voorrade die grootste verklaring bied vir hierdie skerp styging in die BBB. Inderwaarheid, as daar na die finale bestedingkomponente gekyk word, d w s voordat voorraadveranderings in berekening gebring word, toon dit ‘n styging van 4,9% wat slegs marginaal hoër as die BBP was. Van die finale bestedingskomponente was dit weer eens finale owerheidsverbruiksbesteding wat die vinnigste gestyg het met ‘n toename van 7,3% volgende op kw4:2009 se 8,2%. Privaatverbruiksbesteding het in kw1:2010 ook merkbaar verbeter met ‘n styging van 5,7% teenoor kw4 se 1,6%. Besteding op duursame en semi-duursame goedere het hier die pas aangegee. Besteding op bruto binnelandse vaste investering het marginaal met 0,2% gestyg na dalings in die vorige drie kwartale en 2009 as geheel.
Wanneer na die vertoning van die eksterne sektor gekyk word, word gevind dat die uitvoersektor swak vertoon het en met 15,3% op die vorige kwrtaal gedaal het. Dit wil voorkom asof die swak wêreldekonomie gekoppel aan die sterk wisselkoers, hier sy tol geëis het. Die Reserwebank het vir die eertse keer daarop gesinspeel dat die wisselkoers sake bemoelik het. Hierteenoor het invoer met 14,2% gestyg. Die toename in die BBB, saam met die wisselkoerseffek wat invoere al hoe meer mededigend in die plaaslike mark maak, asook besteding op militêre toerusting, het by die styging van invoer ‘n rol gespeel. Die feit is egter dat as invoer vinniger styg as uitvoer dit die BBP ook benadeel.
Ten spyte van ‘n verbetering in die ruilvoet en die feit dat die bruto nasionale inkome met 5,2% gestyg het, wat vinniger was as die toename in die BBP, het die lopende rekening van die betalingsbalans in kw1 merkbaar swakker geneig. Die tekort as persentasie van die BBP het van 2,9% in kw4 tot 4,6% in kw1 toegeneem. Dit was veral die handelsrekening wat verswak het van ‘n surplus in kw4 na ‘n tekort in kw1, met die inkome- en dienste rekening tekort wat ook effens verder vergroot het.
Daar moet kennis geneem word dat die lopende rekening tekort in die laaste been van die afswaai en die eerste been van die opswaai van die sakesiklus normaalweg verbeter. Dit gebeur nie nou nie. Meer nog, gegewe die verswakking in die wêreldekonomie, die staking van spoorweg en hawe personeel, die oorgewaardeerde wisselkoers en die feit dat buitelanders steeds al hoe meer van die land se finansiële bates koop, wat die tekort op die dienste rekening kan laat styg, kan verwag word dat die lopende rekening tekort in kw2 voortgesit kan word. Dit kan ‘n groot probleem word. Verdere stimulering van binnelandse besteding kan dus nie bekostig word nie - dus kwalik ook nie enige gedagte aan verdere rentekoersdalings nie. Die owerheid behoort egter ernstige oorweging te verleen aan die afskaffing van valutabeheer ten einde ‘n meer realistiese wisselkoers te help bewerkstellig. Wat ‘n rentekoersdaling ook onwenslik sal maak, is aanduidings dat die groei in bankkrediet aan die versnel is. Seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, het bankkrediet aan die privaatsektor die afgelope kwartaal tot einde Mei met 5,5% gestyg en vir die maand van Mei alleen was die toename 17,6%. Dan was daar groot rypskade in die Laeveld wat groente oeste verwoes het. Dit gaan tot groot prysstygings lei. Geadministrateerde pryse styg ook bo-gemiddeld vinnig. Die wisselkoers van die rand kan ook laer neig. Dit alles kan die inflasiekoers laat versnel.
Inligting wil daarop dui dat die ekonomiese herstel waarskynlik in kw2 sal verlangsaam. Soos reeds gestel, lol dit op die eksterne sektor en met voorrade wat kan begin styg, kan dit invoer hoog hou. Uitvoer kan swak bly. Privaatverbruiksbesteding kan matig verder styg. Vaste investering kan egter verder daal terwyl die owerheid se verbruiksbesteding nie die tempo wat in die kwartale 4:2009 en 1:2010 behaal is, sal kan volhou nie. Tekens van verswakking in die groeikoers tree reeds na vore weens die nywerheidsektor wat swakker neig terwyl die verkope van elektrisiteit in die binneland ook verlangsaam het.
In die klimaat soos geskets, verbaas dit dan ook nie dat die JSB die afgelope maand, in navolging ook van wêreldtendense, verder laer geneig het nie. Die totale indeks daal vir die kwartaal eindigende 30 Junie met 8,7%, die hulpbronne indeks daal met 12,0%, die finansiële indeks is 9,1% laer terwyl die nywerheidsindeks met 7,4% verswak het.
A J Jacobs
Hoewel moeite gedoen word om hierdie dokument so noukeurig moonlitlik op te stel, aanvaar die opsteller hiervan nog die sakekamer enige verantwoordelikheid vir besluite wat op grond van inligting hierin geneem word.
Enquire about this article
More Related articles
Prepare for growth
Two strategies to consider in order to increase your volume of business are diversification and the forming of strategic associations.
Capital City Business Chamber
Read more...
Quicke reference Guide for Customers
City Of Tswhane: Quicke reference Guide for Customers
Capital City Business Chamber
Read more...
SANLAM COBALT: ECONOMIC COMMENTARY
Following recent disappointing data releases, including a plunge in US pending home sales in May and weaker than expected US employment data, fears of a “double-dip” recession scenario for the global economy have gained traction. In particular, there is i
Capital City Business Chamber
Read more...
EKONOMIESE OORSIG: AUGUSTUS 2010
Onsekerheid, meer onsekerheid en teenstrydige tendense! Dit is die hoofkenmerke van verwikkelinge op internasionale ekonomiese en finansiële gebied. Meer en meer aanduidings dui daarop dat ekonomiese groei vooruitsigte aan die verswak is. Daarenteen, het
Capital City Business Chamber
Read more...
ABUSIVE AND DEROGATORY STATEMENTS
In order to perform to their fullest potential employees do not only need a condusive environment, but also one in which their self-worth is respected and recognized. The use of abusive language such as swearing or derogatory statements etc normally creat
Capital City Business Chamber
Read more...